Bid saam met ons – Dankbaarheid

5 Mei 2023

Voel dit asof jou Gebedslewe nuwe lewe nodig het? Ons Gebedsbediening wil jou uitnooi om saam met ons te bid. Ons gaan vir die volgende kwartaal weeklik Gebedstokkies beskikbaar stel om jou gebedslewe te verryk.
Hoe werk dit dan? Jy kan elke week die Gebedstokkies aflaai van ons webwerf af. Druk die stokkies rug aan rug uit. Jy kan dit op harde karton druk, of gewone papier. Jy kan dit ook lamineer indien jy dit meer bruikbaar wil maak. Sny die stokkies uit en hou in ‘n glasie by jou gebedshoekie. Jy kan dan elke dag vir jou ‘n gebedstokkie of twee trek om voor te bid. Daar is ook ‘n paar leë stokkies wat jy self kan invul, indien jy vir ander temas ook wil bid.

Dit is mooi kleurvol om jou opgewonde te maak oor jou gebedstyd. Dit is moontlik om die stokkies saam as gesin, vriende, kollegas of Kleinkerk te kan gebruik.
Elke week sal ‘n nuwe tema se stokkies beskikbaar wees. Gebruik hierdie stokkies saam met jou Gebedsjoernaal, waar jy jou gebed opskryf. Dit is ‘n oomblik van verwondering as jy terugblaai deur jou Gebedsjoernaal en sien hoe die Here geantwoord het.
Bid asb. hierdie week saam met ons met DANKBAARHEID in die geheel, maar ook spesifiek.

GEBED:
Here van my lewe, Abba, Vader,
U is die Alfa en Omega, die Begin en die Einde.
U is die Christus, die Seun van die Lewende God.
U is my Skepper en my Raadsman, wat my daagliks lei om wyse besluite te neem.
U is my Trooster in hartseer, in pyn of in benoudheid.
Ek loof U dat U tot my nader wanneer ek tot U nader.
U is El Roi, die God wat my sien, en U is Ewig, Here.
U is my hemelse Vader en die Vader van die vaderlose.
Hoe groot is U en U getrouheid, God, dag in en dag uit.
U is heilig, tog het U ‘n manier gemaak vir my om in U teenwoordigheid te kan wees.
Ek loof U, dat U my Helper is. Ek loof U vir U Heilige Gees se oortuiging, die Heilige Gees se regstelling en die Heilige Gees se beskerming in my lewe.
U is onsigbaar, maar ek sien U oral waar ek gaan.
U is Jehovah God, en Jehovah Jireh, die Een wat in al my behoeftes voorsien.
Ek loof U as my Jehovah Rapha, my God wat genees, en as Jehovah Rah, My getroue Herder.
U is nie net Koning nie, maar U is die Koning van Konings, en die Here van Here.
En ja, U is Jesus, die naam bo alle name.
Met my hele hart loof ek U, God.
U is Messias, die spoedige en komende Koning.
U is alwetend; U weet alles wat ons nooit sal kan begryp nie.
U is alomteenwoordig; oral te alle tye.
U is my Vrede, my Beskermer en die Hoëpriester, wat my Verlosser geword het.
U het gesterf om my vry te maak; U het weer opgestaan en my oorwinning oor die dood gegee.
Ek is nie meer aan sonde verslaaf nie. U is my Verlossing, my Redder en my Toevlug.
U gee my hoop wat slegs by U gevind kan word.
Ek loof U omdat U betroubaar is.
U is my Leermeester, en U insig en wysheid is ver verby my beperkte verstand.
U belowe wysheid aan my as ek vra.
U is die Weg, die Waarheid en die Lewe.
Here, ek hou daarvan dat U, U in my verheug en dat U oor my jubel met sang.
U ken die aantal hare op my kop, en U dink altyd aan my.
U is besig om vir my plek voor te berei sodat ek eendag en vir altyd by U sal woon.
Dalk sal ek dan – en eers dan – U voldoende kan prys, op ‘n manier wat nie hier op aarde moontlik is nie en soos U werklik verdien.
Al my liefde, al my lof aan U.
Here, o, Here.
Hoe voortreflik is u Naam waarin ek bid!
– Amen. (Rebecca Jordan Barlow)

linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram