Bid saam met ons - Persoonlik

15 Junie 2023

Voel dit asof jou Gebedslewe nuwe lewe nodig het? Ons Gebedsbediening wil jou uitnooi om saam met ons te bid. Ons gaan vir die volgende kwartaal weeklik Gebedstokkies beskikbaar stel om jou gebedslewe te verryk.
Hoe werk dit dan? Jy kan elke week die Gebedstokkies aflaai van ons webwerf af. Druk die stokkies rug aan rug uit. Jy kan dit op harde karton druk, of gewone papier. Jy kan dit ook lamineer indien jy dit meer bruikbaar wil maak. Sny die stokkies uit en hou in ‘n glasie by jou gebedshoekie. Jy kan dan elke dag vir jou ‘n gebedstokkie of twee trek om voor te bid. Daar is ook ‘n paar leë stokkies wat jy self kan invul, indien jy vir ander temas ook wil bid.

Dit is mooi kleurvol om jou opgewonde te maak oor jou gebedstyd. Dit is moontlik om die stokkies saam as gesin, vriende, kollegas of Kleinkerk te kan gebruik.
Elke week sal ‘n nuwe tema se stokkies beskikbaar wees. Gebruik hierdie stokkies saam met jou Gebedsjoernaal, waar jy jou gebed opskryf. Dit is ‘n oomblik van verwondering as jy terugblaai deur jou Gebedsjoernaal en sien hoe die Here geantwoord het.
Bid asb. hierdie week saam met ons vir PERSOONLIK in die geheel, maar ook spesifiek.

GEBED:

Goeie more, Here van my lewe!
Vandag is ‘n nuwe dag, ‘n kans vir ‘n nuwe begin.
Gister is verby en daarmee saam enige foute, mislukkings of dinge waaroor ek moontlik spyt is.
Dis ‘n goeie dag om dankbaar te wees, en ek is dankbaar, Here.
Dankie vir vandag, ‘n nuwe geleentheid om lief te hê, te gee en om alles te wees wat U wil hê ek moet wees.
Ek wil my dag begin met U in my gedagtes en in my hart.
Soos ek besig is om aan te trek, trek asseblief vir my die wapenrusting aan wat U elke dag aan my voorsien: die helm van Verlossing, die borsharnas van vryspraak, die skild van Geloof, die gordel van Waarheid, die skoene van Bereidheid om die evangelie te verkondig en die swaard van die Gees.
Gee my vandag my daaglikse Brood – omdat hierdie Brood van die Lewe, U voedsel soos manna, my sal versterk teen enige aanslae.
Help my om my gedagtes op U te rig en slegs woorde te spreek wat ander kan help en bemoedig.  
Help my om te dink voordat ek praat en dat ek die begeertes van my hart opsy sal sit. Help my om te streef na uitstekende werk, in plaas van perfekte werk – dat ek nie probeer om “naam te maak” nie, maar eerder om ‘n verskil te maak.
Help my om almal met wie ek in aanraking kom, te behandel soos U hul sou behandel – met respek en liefde en vergifnis.
Help my ook om self om vergifnis te vra indien nodig.
Herinner my aan die begin van hierdie dag, dat ek aan U behoort.
Dit is my begeerte om ook so op te tree.
Hou my voete vas op die grond en verhoed my gedagtes om te dwaal, sodat ek nie kosbare tyd in beslag neem terwyl ek eintlik besig moet wees met die belangrike dinge wat U vir my beplan het.
Ek is trots daarop om U kind te wees, Here!
Ek is so dankbaar dat U vir my aan die kruis gesterf het – weer opgestaan het op U eie, nuwe dag – sodat elke dag daarna gevul kan wees met die wonder van U liefde, die vryheid van U Gees en die vreugde om U te kan ken.
Ek weet dat my lewe op aarde kort en vlietend is, Here, maar ek wil vandag leef asof dit die eerste of die laaste dag van my lewe is.
Here help my terselfdertyd dankbaar wees vir elke perfekte gawe wat U gekies het om vir my te gee.
Vandag, en elke dag, wil ek my lewe aan U wy, Jesus.
In U kosbare Naam.
Amen


PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika