1 Augustus 2022

Nehemia 3:1-3
Die hoëpriester Eljasib en sy ampsgenote die priesters het begin en die Skaappoort gebou. Hulle het die poort gewy en sy deure ingesit. Daarna het hulle gebou tot by die Toring-van-die-Honderd, dit gewy en toe verder gebou tot by die Gananeltoring. Die manne van Jerigo het die volgende stuk gebou en Sakkur seun van Imri die volgende. Die Senaäfamilie het die Vispoort gebou. Hulle het die houtwerk klaar gemaak en die deure, die skarniere en die sluitbalke ingesit.

Om oor te gesels en dink
Nehemia het op die pyn wat hy van die Here ontvang het, gereageer. Dit het uitgeloop in ’n plan. Die plan was om die muur van Jerusalem te bou. Nehemia het dit nie alles self probeer doen nie. Hy het mense gemotiveer om dit saam met hom te doen. So het elke familie en groep voor hulle eie voordeur en stoep as’t ware begin bou. Soos jy deur die hele Nehemia 3 lees, herhaal die woorde “en die volgende stuk is herstel deur…” Dit dui ander mense wat saam met Nehemia verantwoordelikheid geneem het om die plan wat die Here gegee het, te voltooi.
Ons mag ook oorweldig voel oor die pyn wat die Here op ons hart lê, maar ons hoef dit nie alleen te doen nie. Die Here stuur mense om ons te help. Dit is nodig dat ons die prentjie met hulle deel, sodat hulle deel van die plan kan wees.
Wie is daar wat jou kan help om God se plan uit te voer?
Wat lê die Here op jou hart om te doen?
Watter stukkie van jou stoep/muur moet jy bou om saam ’n verskil te maak?

Gebed
Here, ek hoef nie alles self te doen nie. Dit wat U vir my gee is genoeg. Ek moet dit deel en ander mense toelaat om saam met my te werk aan die plan wat U gee. Help my daarmee. Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika