1 Petrus 3:12
Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep, maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen.”
VRAE:
- Petrus noem in hierdie gedeelte dat God sorg vir die opregtes, dat Hy luister wanneer hulle uitroep. Dit beteken dat God hulle raaksien. Ons is dalk gekondisioneer om te dink dat God net na ons kyk om al ons foute en tekortkominge te sien. Die realiteit is egter dat God ons raaksien en juis daarom na ons kyk. Hy sien wanneer ons Hom nodig het, Hy sien wanneer ons hulp benodig of versorg moet word. God sien ons behoeftes raak.
- Wat is jou behoefte vandag? Wat het jy van die Here nodig? Hoe vra jy vir die wat jy nodig het? Het jy al jou behoefte met God of ander gedeel? Deel nou jou hart met die Here.
- God sorg ook vir ander deur gebruik te maak van sy volgelinge. Kyk na die mense om jou vandag. Vra dalk vir ‘n geliefde of kennis by die werk of huis, wat hulle nodig het. Kan God jou vandag gebruik om in iemand om jou se behoefte te voldoen?
- Hoe voel dit om te weet dat God nie daarop uit is om jou net te straf nie? Hoe voel dit om te weet dat God vir jou is en nie teen jou nie? Hoe voel dit om in God se sorg te rus?
Gebed:
Here, dankie dat U my altyd raaksien. Dankie dat U na my kyk en my versorg. Dankie dat U my diepste behoeftes raaksien en dit aanspreek. Dankie dat U ander om my stuur wat vir my sorg. Dankie dat ek ook vir ander kan sorg. Here, maak my meer bewus van al die maniere waarop U na my kyk. En help my om meer te fokus op die maniere wat ek ook diensbaar in U hand kan wees.
Amen