1 Petrus 3:10
10Daar staan geskrywe: “As iemand die lewe liefhet en 'n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens.
VRAE:
- Petrus haal die wysheid literatuur aan wanneer hy hierdie gedeelte deel. Die Spreuke skrywer het alreeds geweet dat mense wat die goeie lewe begeer en wil leef in vrede, mense is wat leer hoe om hulle tonge te beheer. Mense wat die vermoë het stil te bly wanneer hulle in versoeking is om leuens te spreek, stories oor ander te versprei, te oordeel, af te breek of tereg wil wys.
- Wanneer jy geleentheid het om stil te bly of jou stem dik te maak, wat kies jy? Waarom? Wat is die doel van jou keuse?
- Wanneer jy kies om vir mense te sê wat hulle alles verkeerd doen, hoe hulle anders of beter kan wees, mense attent te maak van hulle tekortkominge of foute, stories herhaal of onmin saai, hoe laat dit jou voel? Hoe laat dit ander voel? Sou jy ooit skaam wees as mense hoor wat jy oor hulle sê?
- Wanneer jy kies om stil te bly, hoe laat dit jou voel? Hoe laat dit ander voel? Waarom dink jy is dit iets wat ons as gelowiges meer van moet probeer doen?
GEBED:
Here, soms is dit so moeilik om my tong te hou. Ek wil vir ander alles vertel wat ek weet of van oortuig is. Here, help my om ‘n wag voor my mond te plaas. Help my om nie kwaad te stook nie. Help my om meer verdraagsaam te wees. Here, dankie dat U ook genade met my het.
Amen