Filippense 4:6-7
6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

VRAE:

  • Paulus was baie vertroud met moeilike situasies. Hy het baie swaar gekry. Daar was gereeld oomblikke waar hy vir homself sou kon vra of dit die moeite werd is om aan te hou glo. Wanneer hy in die tronk sit, waarskynlik een van die moeilikste belewenisse wat enige iemand kan hê, is sy antwoord om bly te wees. Om in die moeilike omstandighede aan te hou bid en alles met God te deel.
  • Hoe is dit moontlik om bly te kan wees in moeilike omstandighede? Hoe is dit moontlik om aan te hou bid wanneer die omstandighede so onmoontlik vir jou voel? Het jy al deur sulke moeilike omstandighede gegaan? Hoe kon jy bly wees in die omstandighede? Hoe kon jy steeds alles met die Here deel, ten spyte van die feit dat jy swaar kry?
  • Wanneer ons in gebed alles na die Here neem, kry ons ook die geleentheid om ons harte te laat verander. In plaas daarvan dat ons net ons probleme met God deel, kry ons die geleentheid om ons smekings, versoeke en klaagliedere te transformeer in dankseggings. Waarom is dit belangrik? Want wanneer ons begin fokus op danksegging verander ons fokus. Ons fokus begin die mooi soek, die positiewe soek, die glimmer oomblikke soek en die wonderwerk is, dat ons dit vind.
  • Kan jy getuig van ‘n tyd waar jy op dankbaarheid gefokus het en redes gevind het vir dankbaarheid? Hoe het hierdie praktyk vrede gebring? Deel jou hart met die Here. Is dit tans moeilik om te fokus op dankbaarheid? Vra dat God jou hiermee help en vir jou vrede gee.

GEBED:
Here, ek wil vandag fokus op alles waarvoor ek dankbaar kan wees. Ek wil nie kla nie, ek wil nie smeek vir alles wat ek kort nie. Ek wil fokus op wat ek het. Here, dankie vir my lewe, vir my mense en my omstandighede. Here, dankie dat ek nie alleen in hierdie omstandighede is nie. Dankie Here, dat ek op U kan vertrou. Here dankie dat hierdie gedagte, dat U by mis, vir my soveel vrede kan bring. Here, hou my styf vas. Asseblief Here.
Amen

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika