1 Petrus 3:9
9Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met 'n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry.

VRAE:

  • Petrus herbevestig hier wat Paulus ook reeds in die Romeine brief sê. Wanneer ons soos gelowiges leef, is ons besig om altyd geleenthede te soek om aan ander goed te doen. God het ons geroep en gestuur om vir ander tot seën te wees. Die wêreld bring vloek en beledigings in oorvloed op sy eie. Maar om die goeie te kies vra dat ons op God vertrou om ons te transformeer tot mense wat selfs vir hulle vyande seën toewens.
  • Waarom sou God verwag dat ons ander moet seën, selfs wanneer hulle ons kwaad aangedoen het? Hoe kan God dit werklik verwag as Hy weet hoe sleg dit vir ons was of seer dit vir ons gemaak het? Deel jou hart met die Here.
  • Hoe sou mense reageer wanneer jy hulle seën, selfs wanneer hulle nie dit verdien of dit verwag nie? Waarom sou jy mense seën in plaas van reageer soos jy werklik wou? Wat baat dit jou?
  • Hoe sou dit vir jou wees as mense jou seën wanneer jy verkeerd was of dit nie verdien nie? Hoe beleef jy dit as God jou genade gee wanneer jy weet hoe skuldig jy voor Hom staan? Wat maak jy nadat jy soveel genade ontvang het?

Gebed:
Here, ek is altyd in die versoeking om uit my ou menswees te wil optree wanneer ek seerkry of deur mense sleg behandel word. Here, dit is vir my so moeilik om te kies om mense te seën. Here, help my om altyd U hart en weë in elke situasie te soek. Here, dankie dat U eers vir my die genade gegee het. Here, help my om dit wat ek by U beleef ook vir ander te gun. Meer as dit, help my om dit vir ander te gee.
Amen

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika