Markus 5:37-40
”Jesus het niemand behalwe Petrus, Jakobus en Johannes die broer van Jakobus toegelaat om verder saam met Hom te gaan nie. Hy kom toe by die huis van die raadslid van die sinagoge aan en sien die hele gedoente van mense wat verskriklik huil en te kere gaan. Hy het ingegaan en vir hulle gesê: “Wat raas en huil julle so? Die kindjie het nie gesterwe nie, sy slaap net.” Hulle het Hom uitgelag.“

Om oor te gesels en te dink
Die mense wat so besig was om in die huis oor die kind te huil, het Jesus net uitgelag toe Hy gesê het dat sy nie dood is nie, maar slaap. Die dogtertjie wás reeds dood, maar Jesus het gesê sy slaap net, om hulle te laat verstaan dat haar toestand net tydelik was en dat sy weer lewend sou word.
Jesus het die mense se spot verduur, want Hy wou hulle ’n belangrike les ten opsigte van geloof en vertroue in Hom leer. Dit is ’n ernstige vraag of ons as mense nog die volle vertroue in God het om ten spyte van menslike teenkanting te bly glo dat Hy magtig is en alles kan doen wat vir ons nie meer moontlik lyk nie. Die skare is sinies en dit verhinder hulle om Jesus raak te sien vir wie Hy is. Laat ons nie soos die skare Jesus mis omdat ons sinies is nie.

Gebed
Here Jesus, ek wil U raak sien. Ek wil U vertrou. Help my om nie sinies te wees en daarmee U nie te vertrou nie. Amen.

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika