1 Petrus 3:12
12Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep, maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen.”
VRAE:
- Verse soos hierdie een van 1 Petrus word gereeld gebruik om mense te oortuig om te glo. Die argument om God te dien, hang wel af van waar jy die klem plaas in hierdie vers. Dit gebeur so gereeld dat mense ongelowiges wil oortuig om die Here te dien oor dit wat die ongelowige verkeerd doen. Die fokus is op die God wat dié wat kwaad doen gaan straf.
- Waarom dien jy die Here? Dien jy God omdat jy bang is dat Hy jou gaan straf as jy Hom nie dien nie? Is jy oortuig dat jou saak met die Here reg is, of is jy steeds bekommerd en onseker of God jou gaan straf? Wat beteken dit om vrygespreek te wees op grond van wat jy glo?
- Dien jy die Here omdat jy totaal oortuig is van God se sorg, genade en liefde? Hoe lyk dit om ‘n Here te dien wat vir jou vryspreek uit genade, wat nie verwag jy moet eers reg doen voordat Hy vir jou vergewe en liefde bewys nie? Hoe lyk dit om God te dien wat vir jou sorg en vir jou omgee bloot omdat Hy jou geskep het en vir jou lief is?
- Wanneer jy met ander die Woord deel of getuig van jou belewenis van God, waarop fokus jy? Probeer jy hulle oortuig van hoe sondig hulle is en hoe God hulle daarvoor gaan straf? OF deel jy meer oor hoe God liefdevol is en sorg vir Sy kinders? Waarop dink jy wil God hê, jy moet fokus?
GEBED
Here, dankie dat U ‘n God is wat sorg, lief het en genade gee. Dankie dat dit nie iets is war ons moet verdien, voor werk of selfs voor hoef te verander nie. Dankie dat U vir ons die geleentheid gee om ons verhouding met U te kan herstel, slegs deur te bely wie U werklik is, ons God. Here, dankie dat U vir ons sorg en na ons kyk, wanneer ons bely. Here, help ons om te doen wat reg is, wanneer ons oortuig is dat U ons Vader is. Here, help ons om aan ander ook die goeie nuus oor te dra. Here help ons om nie te getuig uit vrees vir U straf nie, maar eerder te fokus op die God wat so lief het dat ons kan seker wees van Sy sorg.
Amen