Markus 5:40-43
”Hulle het Hom uitgelag. Hy het almal beveel om uit te gaan. Hy het net die pa en die ma van die kindjie en die drie dissipels wat by Hom was, saamgeneem en in die kamer ingegaan waar die kindjie was. Hy vat toe die kindjie se hand en sê vir haar: “Talita, koem!” Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op! Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop; sy was al twaalf jaar oud. Die mense was stom van verbasing. Hy het hulle toe streng opdrag gegee om niemand anders daarvan te laat hoor nie en gesê hulle moet vir haar iets te ete gee.“
Om oor te gesels en te dink
Jesus doen die wonderwerk sonder om dit aan die groot klok op te hang. Hy beveel selfs dat hulle dit nie vir almal moet vertel nie. Jesus wil nie ‘n klomp bewonderaars hê wat net vir eie gewin Hom volg nie. Hy wil dat mense in geloof en gehoorsaamheid Hom volg.
Jesus wys sy deernis en besorgdheid vir almal. Nie net het Hy die vrou met bloedvloeing, ‘n uitgeworpene, gehelp nie. Hy red ook ‘n kind, wat nie baie aansien gehad het nie. Almal is vir Jesus belangrik.
Uit hulle verwondheid bring Hy hulle tot verwondering. Ons hoef nie bang te wees om ons nood na Jesus toe te bring nie. Hy kan ons verwondheid verander in verwondering. Ons kan Hom aanbid vir wie Hy is.
Gebed
Jesus, U het gekom om ons te red. U verander ons wonde in wonders. Mag ek U genade wat ek so nodig het, ervaar. Amen.