Spreuke 9:10
10Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig.

VRAE:

  • Die wêreld wil vir ons verskeie vorms van wysheid verkoop. Kennis word vir wysheid gesien. Ons weet baie dinge. Ons het kennis van geskiedenis, tegnologie, wetenskap, biologie en selfs teologie. Ons kan ‘n klomp dinge weet maar dit is steeds nie wysheid nie. Wysheid volgens die Spreuke skrywer is om die Here te dien.
  • Waarop bou jy wysheid? Of vertrou jy meer op kennis as op wysheid? Vertrou jy meer op kennis oor God, geloof, natuur, tegnologie, finansies, materiële dinge, versekering, vriende, familie, verhoudings? As jy werklik eerlik met jouself en met God sou wees, waarop vertrou jy die meeste? Watter getuienis is daar vir dit?
  • Waarom is die dien van die Here, werklike wysheid? Hoe verander dit jou lewe om die Here te dien? Hoe verryk dit jou lewe om die Here te kan dien?
  • Watter versoekings is daar om die wêreld se kennis na te jaag, eerder as om wysheid te soek? Elkeen van ons, het ons eie tekortkominge wat ons in versoeking laat staan. Wat is daar wat jou aandag van die Here aftrek? Wat is daar wat jou tyd van die Here af steel? Wat is daar wat jou gedagtes weg van die Here stuur? Wat is daar wat jou hart van die Here weghou?
  • Hoe kan jy vandag begin om die Here opnuut te dien?

Gebed:
Here, daar is so baie wat my aandag wegneem en my lewe oorneem. Here, ek soek wysheid, maar eindig so gereeld met kennis op. Kennis van alles wat nie werklik vir my vreugde, vrede of liefde bring nie. Here, ek weet ek benodig wysheid. Ek wil U dien. Here, ek weet nie altyd hoe om dit te doen nie, maar Here ek wil. Here, help my om vandag net stil te wees in U teenwoordigheid en te wag vir U wysheid. Here, ek wag op U en weet dit is al wat ek werklik nodig het.
Amen

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika