2 Korintiërs 1:1-7
3 Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. 4 In elke moeilikheid bemoedig Hy ons.
Moeilikheid en bemoediging is deel van ons lewens as volgelinge van Jesus. Hierdie gedeelte praat juis daaroor. Die griekse woorde wat hier gebruik word vir moeilikheid en bemoediging is ryk in betekenis, en ons gaan deur die loop van die week daarna kyk.
Die eerste belangrike ding om raak te sien, is dat die Christen woorde van lof en dank het in tye van moeilikheid. Waarom? Want God staan nie apaties en op ’n afstand daaroor nie, nee, Hy ontferm Hom oor ons, en Hy bemoedig ons.
God se bemoediging is nie iets wat ons net goed of lekker laat voel nie. God se bemoediging gee eerder vir ons die krag om aan te gaan wanneer die lewe taai is, soos mense wat langs die pad staan by die Comrades Maraton en almal aanmoedig om aan te gaan.
Ons almal het hierdie bemoediging nodig, en Paulus maak dit duidelik dat dit op net een plek te vinde is, en dit is by God self. Hierdie Goddelike bemoediging is ook ’n voorskou vir dit wat vir ons in die ewigheid wag, daarom kom al die lof vir God toe!
Die feit dat Jesus ’n mens was en al ons moeilikheid hier op aarde ken behoort ons altyd te bemoedig!
Om oor te dink:
Comfort relates to encouragement, help, exhortation. God’s comfort strengthens weak knees and sustains sagging spirits so that one faces the troubles of life with unbending resolve and unending assurance. David Garland