Psalm 95
6Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor die Here ons Skepper!
VRAE:
- Vandag se Psalm erken God vir wie Hy is. Dit verwys na verskillende elemente wat God geskep het, en waardig is van prys. Dit nooi ons uit om voor God te kom kniel omdat ons juis erken wie God is, die heerser van die heelal, asook die heerser van my lewe.
- Wat sal alles op jou lysie wees? As jy redes moet gee waarom jy voor God kniel, wat sou jy op die lysie plaas? Deel jou lysie met die Here en eer Hom daarvoor.
- Die Psalm eindig waar God aan die woord is. Hy noem die geleenthede waar sy volk gekla het. Hy vra van hulle om nie weer so te maak nie, en wys ook wat die konsekwensies was van hulle houding teenoor God.
- Wat sou die Here vanoggend vir jou vra? Sou Hy ook ‘n lys van voorbeelde kon noem waar jou houding nie gepas was nie? Sou Hy vir jou ook vra om nie weer so te maak nie? Dink aan jou lewe, en hoe jou houding teenoor God nie gereflekteer het wie Hy was in jou lewe nie. Deel jou hart met die Here.
GEBED:
Here, vanoggend wil ek kom met dankbaarheid vir alles wat U vir my gedoen het. Maar meer as dit Here, wil ek U prys vir wie U is. U is die heerser van die heelal en die koning van my hart. Here ek is nederig verstom oor U grootheid en U liefde vir my. Here, help my om my houding so aan te pas, dat ek eerder op my knieë voor U neerval in aanbidding, as kla oor die paar goedjies wat ek voel ek steeds nie het nie. Here, help my om biddend afhanklik van U te bly.
Amen