Matteus 5:38-39
“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen 'n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe.”
Om oor te gesels en te dink:
Jesus help ons om wysheid toe te pas en dit prakties te maak. Die Jode het baie reëls gehad en nie geskroom om reg in eie hande te neem nie, solank hulle binne die reëls bly. Dit was die kennis wat hulle gehad het. Nou kom Jesus en bring wysheid deur te sê al slaan iemand jou op die regterwang om jou te verneder, tree met wysheid op deur die ander wang te draai want dit dwing die persoon om jou dan as sy gelyke te hanteer. As die ander persoon jou ’n tweede keer slaan, moet hy die binnekant van sy hand gebruik en nie die agterkant van sy hand nie. Dit word dan ’n simbool van menswaardigheid.
Dalk is jy ook in ’n moeilike situasie? Dit is nie om ’n vloerlap te wees nie, maar om te bid vir wysheid dat jy die regte ding sal doen in jou situasie.
Gebed
Here, help my om met wysheid op te tree. Ek wil nie vergeld nie, maar ek wil U dien deur te doen wat U van my vra. Amen.