Romeine 5:1-2
“God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God.”
Om oor te gesels en te dink:
Paulus skryf aan die gelowiges in Rome en gebruik regstaal om hulle te herinner dat hulle vrygespreek is en nie skuldig voor God is nie. Die aanklagte teen hulle is weggeneem. Op grond van geloof in Jesus Christus is daar nou vrede tussen ons en God. Ons het nou vrye toegang tot God en hoef ons nie meer bang te wees nie. Sy genade is oorvloedig. Dit gee ons die hoop dat ons in die heerlikheid van God kan deel.
Gebed
Here Jesius, dankie dat ek in vrede met U kan leef. Dankie dat U my vrygespreek het. Dankie dat U genade vrylik beskikbaar is. Dankie dat ek met hoop kan leef. Amen.