Markus 6:34-38, 41-43
”Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy 'n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie 'n wagter het nie. Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer. Toe dit al baie laat was, het Jesus se dissipels vir Hom kom sê: “Dit is 'n afgeleë plek hierdie en dit is al baie laat. Stuur die mense terug sodat hulle op die plase in die omtrek en in die dorpies vir hulle iets te ete kan koop.” Maar Hy sê vir hulle: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Hulle antwoord Hom: “Moet ons met twee honderd mense se dagloon brood gaan koop om vir hulle iets te ete te gee?” Hy vra vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.” Nadat hulle gaan kyk het, sê hulle: “Vyf, en twee visse.” Toe het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Daarna het Hy die brood gebreek en dit vir sy dissipels gegee om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder hulle almal verdeel. Al die mense het geëet en genoeg gekry. Hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood en die vis.“

Om oor te gesels en te dink
Markus wys vir ons Jesus se hart. Terwyl Hy tussen die mense was, het Hy hulle innig jammer gekry. Hulle was soos skape sonder ’n herder. Jesus leer hulle van die koninkryk en dan kom vra die dissipels vir kos. Jesus wil vir hulle leer dat God voorsien, maar die dissipels dink dadelik verskonings uit dat dit nie moontlik is nie. Jesus gaan voort met dit wat hulle het, vyf brode en twee visse. Hy dank God en die wonder van vermeerdering gebeur. Almal was verbaas gewees. Die dissipels het dit amper gemis. Hulle het nie met God rekening gehou en besef Jesus kan die wonder doen nie.
Mis ons nie ook klein wonderwerke omdat ons dink hoekom dit nie kan gebeur nie?
Jesus begin met wat ons het en verander dit in wat ons nodig het.

Gebed
Jesus, ek bring vir U wat ek het. Gebruik dit om te doen wat U wil doen. Ek wil nie die wonderwerk mis nie. Amen.

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika