Johannes 14:16-19
“Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. Nog net 'n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe.”
Om oor te gesels en te dink
Ons het gister Pinksterfees gevier. Ons, as gelowiges, het die Heilige Gees van God ontvang. Jesus het voor sy kruisiging aan Sy dissipels die belofte van die Heilige Gees gegee. Die Johannes Evangelie vertel ons van die gesprekke waarin Jesus die Heilige Gees belowe het.
Die eerste keer wat Jesus die Heilige Gees belowe noem Hy Hom die “Parakleet”. Dit is ’n Griekse woord wat vertaal kan word as Helper, Trooster, Voorspraak. Die Heilige Gees is dit alles en nog meer. Jesus het die Gees van waarheid vir ons gestuur, sodat ons nooit alleen hoef te wees nie. Ons is nie meer weeskinders nie. God is deur Sy Gees by ons elkeen.
Gebed
Here God, dankie vir U Heilige Gees. Dankie dat ek nooit alleen is nie. Mag ek vandag U troos beleef. Amen.