Spreuke 3:5-10
5Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. 6Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. 7Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is: 8dit is die geneesmiddel vir jou, die verkwikking vir jou liggaam. 9Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, 10dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn.
VRAE:
- Spreuke beskryf hoe mens die Here dien deur Hom te ken in alles wat jy doen. Dit beteken dat jy weet jy is ten volle afhanklik van God. Dit beteken dat jy nie aanhou om jou eie planne te maak, jou eie prioriteite te kies of jou eie besluite te neem nie. Jy leef in afhanklikheid want jy weet jou eie planne vir jou lewe is nie naastenby so goed soos die planne wat die Here vir jou het nie.
- Wanneer jy jou planne vir die week maak, besluit jy self oor jou planne? Wanneer jy na jou finansies omsien, besluit jy self oor wat daarmee gebeur? Wanneer jy besluite oor die toekoms moet maak, besluit jy self oor wat jy wil najaag en wat jy nie wil najaag nie? Wat is jou proses wanneer dit kom by die besluite wat jy moet neem? Hoe sou jou proses lyk as jy eers met God oor alles sou gesels? Hoe sou dit lyk as jy God eers raadpleeg wanneer jy groot en klein besluite moet neem?
- God is die antwoord op elke probleem, situasie of geleentheid wat ons moet hanteer. As jy onseker is oor watter kant toe om te gaan, Hy sal jou lei. As jy onseker is oor wat reg en wat verkeerd is, die Here sal jou wys. As jy siekte het en skade gekry het, sal die Here jou gesond maak. As jy lendelam en lewensmoeg is, sal die Here vir jou nuwe krag en passie gee. As jy voel asof jy nooit genoeg het nie, sal die Here weer vir jou laat beleef dat jy oorvloed het.
- Wat is jou behoefte en wat het jy nodig van God? Deel jou hart met die Here. En wag geduldig op God se antwoord en leiding in die proses.
Gebed:
Here, ek het soveel behoefte en tekortkominge. Here, ek weet nie waar om te begin en waarvoor om te vra nie. Here, help my om met elke tree op U te wag. Here, voor ek besluit oor wat ek vandag doen, gee my leiding en wysheid. Roer my hart sodat ek die regte keuses maak en my energie op die regte prioriteite plaas. Here, help my en leer my dat ek nie op my eie insigte staatmaak nie, maar net op U.
Amen