Kolossense 3:1-4
“Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.”
Om oor te gesels en te dink
Paulus roep die gemeente in Kolosse op om onder moeilike omstandighede hulle geloof uit te leef. Hy skryf vanuit die tronk en herinner hulle wie hulle is. Hulle identiteit is in Christus. Omdat hulle saam met Christus uit die dood opgewek is, toe hulle tot geloof gekom het, kan en moet hulle anders leef.
Ons kan ook uit hierdie identiteit leef. Ons behoort aan Christus en daarom moet ons ons gedagtes rig op dit wat daarbo is. Christus is die belangrikste en ons moet ons besluite daardeur laat bepaal. Dit vra ’n keuse dat ons elke dag uit hierdie identiteit sal leef. Wanneer ons weet wie ons is, weet ons hoe om op te tree. Ons is nie op ons eie nie en ons kan nie as gelowiges net maak wat ons wil nie.
Kom ons kies vandag om ons gedagtes deur God te laat rig omdat ons aan Jesus Christus behoort.
GebedHere Jesus, ek wil my gedagtes rig op dit wat daarbo is. Ek wil kies wat vir U belangrik is. Dankie dat ek aan U behoort en dat U vir my lief is. Amen.