Spreuke 8:12-21
12“Ek, Wysheid, het die verstand, ek het die kennis en die skranderheid. 13Om die Here te dien, is om te haat wat verkeerd is. Daarom haat ek hoogmoed en hovaardigheid, ‘n verkeerde lewe en slinkse woorde. 14Wie my het, het raad en behaal sukses, ek verleen insig, ek is die een wat die mag gee. 15Met my hulp regeer konings goed en laat maghebbers reg geskied; 16met my hulp heers die mense wat mag het, die leiers, elkeen wat reg regeer. 17Ek het dié lief wat my liefhet; dié wat my soek, vind my. 18Wie my het, het rykdom en eer, het duursame en blywende besittings. 19Wat ek vir jou lewer, is beter as goud, selfs fyn goud; wat ek inbring, is meer werd as die suiwerste silwer. 20Waar ek gaan, is daar geregtigheid, my pad is dié van die reg. 21Ek maak dié wat my liefhet, ryk, ek maak hulle skure vol.

VRAE:

  • Spreuke verduidelik in hoofstuk 8 hoe wysheid optree. Wysheid is om sonder hoogmoed en arrogansie op te tree, sodat ander bo jouself gelig word. Wysheid dien ander, regeer met sagmoedigheid en doen wat reg is vir almal wat onder hulle leef. Wysheid maak mense ryk in alles wat werklik kosbaar is.
  • Dit is so maklik om negatief te wees oor die leierskap wat ons waarneem om ons. Wysheid gee ons die geleentheid om self as leiers op te tree waar ons gaan. Hoe vergelyk jou eie leierskap van dit wat Spreuke 8 beskryf? Is jy besig om mense vry te maak, ander te dien, vir die wat nie vir hulleself kan opstaan nie, op te staan, ryk te wees in dit wat werklik saak maak? Deel jou hart met die Here.
  • Volgens jou, wat is rykdom? Wat is belangriker as goud en silwer? Beleef jy dat God jou skure volmaak in dinge wat werklik saak maak? As jy ‘n inhoudsopgawe moes maak, wat sou jy kon optel vir jou rykdom?
  • Hoe sou God jou gebruik om ‘n verskil te maak in die lewens van die mense wat om jou is, by die huis, die werk, die samelewing? Hoe deel jy jou rykdom met ander deel, in die wete dat jy altyd meer sou hê as wat jy benodig? Hoe lei jy ander soos die koning wat in God se wysheid regeer?

GEBED
Here, gebruik my as ‘n regeerder in my huis, my werksomgewing, my gemeenskap en my lewe. Here help my om U rykdom te sien en waardeer. Here, help my om met wysheid te leef in liefde en trou. Here, gebruik my om U koninkryk uit te brei. Here, neem my eie hoogmoed en arrogansie weg. Here neem my behoefte om te heers en regeer weg. Here, help my om te dien, om lief te hê en te gee vir ander. Here, help my om in wyshei U te dien my hele lewe lank.
Amen

WORD DEEL

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika

linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram