Markus 1:16-18
16Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy vir Simon en Simon se broer Andreas gesien waar hulle besig was om werpnette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep. 17Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” 18Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg.
Om oor te gesels en te dink:
Jesus begin Sy bediening deur gewone mense te roep. Anders as in daardie tyd, waar jy besluit het om iemand te volg wat jou beïndruk het, kom Jesus en roep mense om Hom te volg. Hy roep hulle om in Sy voetspore te kom stap en saam met Hom te kom leef. Hy roep hulle nie om ’n klomp leerstellings of wette te volg nie, maar Hom.
Die eerste twee mense wat reageer is Simon en Andreas. Hulle het onmiddellik hulle nette gelos en Jesus begin volg. Hulle het nie verskonings uitgedink oor hoekom hulle Jesus nie kan volg nie. Hulle het alles agter gelaat en Jesus begin volg. Daar was vir hulle geen waarborge nie. Hulle het net geweet hulle moet dit doen.
Jesus roep jou ook om in Sy voetspore te stap. Watter nette moet jy los? Wat hou jou vas of terug om Jesus te volg? Wil jy nie ook soos die dissipels besluit om Hom onmiddelik te volg nie?
Gebed
Here Jesus, dankie dat U my roep. Help my om die dinge wat my vashou te los, sodat ek in U voetspore kan volg. Ek wil agter U aan stap. Amen.