Markus 1:19-20
19Toe Hy ’n entjie verder gaan, het Hy vir Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die skuit besig was om hulle nette reg te maak, 20en dadelik het Hy hulle geroep. Hulle het hulle pa, Sebedeus, net so saam met die loonarbeiders in die skuit gelaat en saam met Jesus gegaan.
Om oor te gesels en te dink:
Jesus roep dadelik nog twee dissipels. Hulle is broers, Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus. Hulle was nie maklike manne nie. Hulle het die bynaam “Boanerges” (seuns van die donder) gehad, waarskynlik oor hulle humeure (Mk 3:17). Tog kies Jesus hulle steeds. Later sou hulle ook baklei om die belangrikste plekke in die koninkryk te wil kry (Mk 10:35-41).
Jesus roep gewone mense soos hulle is, maar Hy los hulle nie soos hulle is nie.
Jesus roep jou ook net soos jy is. Al dink jy soms dat Jesus jou nie kan roep nie oor iets wat jy gedoen het of iets waarmee jy sukkel, kom Hy steeds na jou toe. Hy kom roep jou ook op die naam en nooi jou om in Sy voetspore te kom stap.
Is jy bereid om te kom soos jy is?
Gebed
Here Jesus, as U ’n Jakobus en Johannes kan roep, kan U my ook roep. Ek kom soos ek is. Ek wil U volg en in U voetspore stap. Amen.