Efesiërs 2:10
“Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Om oor te gesels en te dink:
God het ons uit genade gered en gemaak wat ons nou is. Genade kan ons nie net vir onsself hou nie. Ons is geskep om dit te deel deur goeie dade te doen. Ons moet besef dat God ons in staat stel om goed aan ander mense te doen. Dit kom uit ’n plek van dankbaarheid, eerder as plig. Ons doen goed omdat ons dit wil doen en ons nie anders kan as om vir die Here met ons lewe dankie te sê nie.
Wanneer ons goeie dade doen, is ons besig om binne God se wil te lewe. Ons wêreld smag na liefde en genade en God gebruik ons elkeen om die verskil in iemand anders se lewe te wees.
Jy kan vandag die antwoord op iemand se gebed wees. Stel jouself oop dat die Here jou kan gebruik. Dit kan iets kleins wees, maar dit kan die ander persoon en ook jou lewe verryk.

Gebed
Here Jesus, dankie dat U my gemaak het wie ek nou is. Ek wil graag vandag iemand dien met U genade en liefde. Help my asseblief om dit vandag te doen. Amen.

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika