Markus 2:14-17
Toe Hy by die tolhuis verbygaan, sien Hy vir Levi seun van Alfeus daar sit, en Hy sê vir hom: “Volg My!” Levi het opgestaan en Hom gevolg. Daarna het Jesus in Levi se huis gaan eet. Baie tollenaars en sondaars was saam met Hom en sy dissipels aan tafel, want daar was baie van hulle wat Hom gereeld gevolg het. Toe die skrifgeleerdes onder die Fariseërs sien dat Hy saam met sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gesê: “Waarom eet hy saam met tollenaars en sondaars?” Jesus het dit gehoor en Hy sê vir hulle: “Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”
‭‭
Om oor te gesels en te dink:
Jesus roep mense wat ander nie sou kies nie. Levi, ‘n tollenaar, was ‘n gehate persoon in die samelewing omdat hy mense uitgebuit het vir eie geldelike gewin en hy was kop in een mis met die Romeinse regering. Boonop is hy deur die godsdienstiges as onrein en onwelkom beskou. Tog kies Jesus hom deur hom te nooi om Hom te volg. Levi reageer dadelik en los alles om Jesus te begin volg.
Levi nooi Jesus na sy huis toe om saam met Hom te eet. Dit ontstel mense, maar Jesus herinner hulle dat Hy soos ‘n dokter mense help wat Hom nodig het.
Jesus roep jou ook. Hy nooi jou om saam met Hom te eet, selfs al dink almal anders en jyself dat jy dit nie verdien nie. Jesus jet jou lief en kies om jou te roep om in Sy voetspore te stap.

Gebed
Here Jesus, dankie dat U na my uitreik en my nooi om U te volg. Ek wil reageer en agter U in U voetspore volg. Amen.

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika