Efesiërs 2:17-18
“Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader.”
Om oor te gesels en te dink:
Die genade waardeur ons gered word, is vir ons vrede gebring. Daar is nie nou nie meer vyandskap tussen ons en God nie. Mense van daardie tyd was heeltyd bang vir God en gedink dat God vir hulle kwaad is. Dit laat ons hierdie vers beter verstaan. God neem die inisiatief om vrede te bring tussen ons en Hom, sonder dat ons dit verdien. Dit is vir almal beskikbaar, die wat ver van God was en dié wat naby was. Ons het nou deur die Heilige Gees vrye toegang tot die Vader.
Wanneer ons bid, is ons in God se teenwoordigheid. Ons kan met vrymoedigheid met Hom praat omdat ons vrye toegang tot die Vader het. Is dit nie wonderlike nuus nie? Ons kan in vrede en vreugde leef.
Gebed
Hemelse Vader, dankie vir die voorreg om deur die Gees vrye toegang tot U te kan hê. Dankie dat ek in vrede met U kan leef. Dankie vir hierdie onverdiende genade. Amen.