Psalm 139:1-6
Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend. Daar is nog nie 'n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees. U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.
Om oor te gesels en te dink:
Kinders kan soms makliker as volwassenes in ‘verwondering’ staan. Dink veral aan geleenthede wanneer hulle iets vir die eerste keer beleef of raak sien. Soms is dit juis in hierdie oomblikke wat hul ‘n ouer nader roep om ook te ‘kom kyk!’. Dalk kan ons hierdie week weer in verwonderling staan deur opnuut weer bewus te word hóé goed God jou ken. Die Psalmdigter beleef dat God dwarsdeur hom kan sien. Dat God weet wat sy doen en late is, asook gedagtes! Kom kyk en beleef hierdie week saam in die dagstukkies dat die Here jou persoonlik ken, gevorm het, geroep het en uitnooi om Godself opnuut weer te ontdek in jou lewe.
Gebed
Here, ek wil hierdie week opnuut kom kyk. Opnuut kom kyk om iets van U te beleef. Iets van my eie roeping dalk te verstaan. Kom wys my. Amen