Efesiërs 4:7, 11-12
7 Aan elkeen van ons is ‘n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het. 11 En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. 12 Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.
Waarom dien ons deur ons gawes?
Vers 7 is duidelik: aan elkeen van ons is ’n gawe gegee, deur Jesus, soos Hy wil, net uit genade. Ons dien met hierdie gawes, ter wille van hierdie diversiteit. Die liggaam van Christus (die Kerk, ons) funksioneer en groei deur hierdie diversiteit, soos elkeen sy verantwoordelikheid opneem wat saam met sy gawe kom.
Saam met ’n verskeidenheid van gawes, kom ’n verskeidenheid van verantwoordelikhede. Vers 11 noem ’n lys van geestelike gawes wat Jesus gegee het.
Omdat dit woorde bevat wat ons nie noodwendig elke dag gebruik nie, kan dit soms vir ons vreemd klink, en vaag wees wat presies dit behels en vir elkeen van ons persoonlik beteken. Deur die loop van die week gaan ons dieper na hierdie gawes kyk, verstaan wat dit behels, nadink oor die rol wat dit speel in die kerk, en leer hoe dit die kerk laat groei tot volwassenheid.
Om oor te dink:
“Gifts are abilities God gives us to meet the needs of others in Christ’s name.” Tim Keller