Efesiërs 4:13-16
15 Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, 16 en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam 'n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.
Wanneer ons ons gawes gebruik, en die kerk groei in haar volwassenheid, sal ons in liefde by die waarheid bly, sê Paulus. Dink vir ’n oomblik daaroor: mense van die waarheid en mense van liefde, tegelykertyd!
Jesus was so: almal het geweet waarvoor Hy staan, Hy was en is self die waarheid; en almal wou graag om Hom en by Hom wees, Hy was iemand van liefde wat baie empatie met mense gehad het.
Ons het juis nodig om in die wêreld wat ons leef beide gelyktydig vas te hou: mense van die waarheid word dikwles beskryf as liefdelose mense wat ander oordeel, en mense van liefde word dikwels beskryf as mense wat alles en almal aanvaar ten koste van die waarheid. Dit is doodgewoon nie waar nie, en die mooi van beide word juis ten toongestel wanneer ons dit tegelykertyd beliggaam, soos Jesus het! Ons gawes is veronderstel om ons na hierdie plek toe te laat groei.
Kyk weer na vers 16: Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam 'n eenheid. Elkeen het sy/haar plek, en elkeen het die ander nodig, sodat die liggaam opgebou kan word in liefde.
Om oor te dink:
”…the Church exists for nothing else but to draw men into Christ, to make them little Christs. If they are not doing that, all the cathedrals, clergy, missions, sermons, even the Bible itself, are simply a waste of time.” C.S. Lewis