1 Kronieke 4:9-10
9Jabes het voorrang geniet bo sy broers. Toe sy ma hom die naam Jabes gegee het, het sy gesê: “Ek het hom met smart in die wêreld gebring.” 10Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” God het laat gebeur wat hy gevra het.

VRAE:

  • Jabes is tot ‘n groot mate, ‘n onbekende figuur in ons Bybel. Sy hele lewe word kortliks in twee verse opgesom in Kronieke. Een van die eerste feite wat ons leer van hom, is dat hy sy hele lewe lank Jabes genoem is. Jabes beteken pyn of smart. Stel jouself voor dat jy lewenslank herinner moet word aan die pyn waarmee jy in die wêreld ingebring is. Stel jouself voor dat jy altyd herinner word aan die pyn wat jy aan iemand anders aangerig het. Dit was Jabes se belewenis.
  • Indien jy bekend sou wees vir die pyn wat jy al aangerig het of die pyn wat jyself al beleef het, hoe sou jy bekend gewees het? Hoe sou dit jou beïnvloed as jy altyd aan daardie pyn herinner word het? Hoe sou dit jou denke, dade en emosies beïnvloed? Hoe sou dit jou geloof beïnvloed?
  • Wat ons van Jabes leer in hierdie gedeelte, is dat hy nie bereid was om vir sy hele lewe bekend te staan as ‘n man wat ander smart of pyn veroorsaak het nie. Hy wou ‘n man wees wat vir ander tot seën is. Hy vra vir God om hom te seën, en meer as dit, hom te weer hou van pyn. Beide dat hy nie weer pyn self aan ander sal doen nie, maar ook nie meer pyn sal beleef van dit wat hy aan ander doen nie.
  • Voel jy te neergedruk oor die aksies van jou verlede? Het jy al vir die Here gevra om jou storie te verander? Het jy al vir God gevra om jou storie so oor te skryf dat jy nou ‘n bron van seën vir ander sal wees? Waarvoor wil jy geken wees? Vra dat God jou lewens storie so sal oorskryf dat dit van nou af jou nalatenskap sal wees.

Gebed:
Here, vir so lank al loop ek met die gedagtes van my grootste tekortkominge. Here, ek vra dat U dit sal verander. Breek in my ‘n nuwe storie oop. Here, verander my hart, my lewe sodat ek ‘n bron van seën vir ander sal wees. Here, verander my lewe sodat dit eer aan U naam sal bring en U koninkryk sal uitbrei.
Amen

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika