Romeine 8:1-4
“Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees.”
Om oor te gesels en te dink:
Mense van daardie tyd het gedink dat as hulle die wet onderhou, hulle deur God vrygespreek sal word. Hulle het alles in hulle vermoë gedoen om nie die wet te oortree nie. Hulle kon dit nie reg kry nie. Daarom dat Paulus hulle herinner dat dit nie die wet is wat hulle vry maak nie, maar die wet van die Gees in Christus Jesus. God het sy Seun Jesus gegee om ons vry te maak. Ons kan nou deur die Gees in vryheid leef. Uit liefde vir God, kies ons om die regte dinge te doen.
Ons is dus nie meer slawe nie, maar vry in Christus Jesus. Kom ons leef vandag so.
Gebed
Here Jesus, dankie dat U my kom bevry het van die wet. Ek stel my lewe onder U beheer. Laat U Gees my elke dag beheer en leer. Amen.