Kolossense 1:9-10
Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, 10sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang.
VRAE:
- Paulus het gehoor van die gemeente in Kolosse. Wat hy gehoor het is dat hulle geloof sterk is en gevestig in die waarheid van die evangelie. Hy het gehoor dat hulle liefde vir ander prakties uitgeleef word. Hy het ook gehoor dat hulle hoop gevestig is in God, nie in die beloftes van die samelewing om hulle nie. Daarom bid hy ook vir die gemeente. Hy bid dat hulle deur die Gees gelei sal word. Dit beteken dat hulle sal groei in vertroue op die Gees en ook sensitief sal wees vir Sy leiding.
- Wat beteken dit vir jou om deur die Gees gelei te word? Hoe weet jy wat die Gees van jou verwag? Hoe word jy deur die Gees oortuig van dit wat jy moet doen?
- Hoe lyk jou verhouding met die Gees? Is jy so bewus van Sy teenwoordigheid dat jy oortuig is van wat jy moet doen of sê, of selfs nie moet doen of sê nie? Is jy onseker van die Gees se leiding in jou lewe?
- Is daar iemand in jou lewe wat jy glo sensitief en gehoorsaam is vir die leiding van die Heilige Gees? Loer by hulle in en vra vir hulle, om te deel wat hulle ervaring is van die Gees se leiding. Vra vir God om jou meer bewus te maak van die rol van die Heilige Gees in jou lewe.
Gebed:
Here, ek glo en is oortuig daarvan dat ek meer van die Heilige Gees in my lewe nodig het. Here, ek wil groei in insig en wysheid oor Sy werk in my lewe. Here, ek vra dat U Gees, my lewe sal transformeer, my handeling sal bepaal en my woorde sal kies. Here, mag ek met oortuiging die leiding van die Heilige Gees vertrou en volg.
Amen