Psalm 23:6
6U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.
VRAE:
- Die Psalmdigter weet dat hy nooit God se liefde en goedheid sal kan ontsnap nie. Hy is oortuig dat God altyd betroubaar is en aan sy kant is. Die Psalmdigter is ook oortuig dat ‘n lewe wat in die teenwoordigheid van God se huis spandeer word, die moeite werd is. Nie net die moeite werd nie, maar eintlik wat elkeen van ons na moet smag.
- Wat het jy nodig om lewenslank gelukkig te wees? Wat is jy tans besig om na te jaag? Wat is jy tans besig om te probeer bereik? Waarom is jy besig om dit na te jaag? Wanneer gaan jy weet wanneer jy dit bereik het?
- Indien jy vir die res van jou lewe net die goedheid en liefde van God sou wou najaag, sou dit vir jou genoeg kon wees? Hoe sou ‘n lewe lyk wat dit najaag?
- Hoe voel dit om tuis te wees? Dink jy, jy sal tuis wees in die huis van die Here, tot in lengte van dae? Waarom sal dit vir jou die moeite werd wees? Deel jou hart met die Here.
GEBED
Here, ek wil tuis wees by U. Ek wil lewenslang en dan daarna by U veilig en tuis voel. Ek wil U goedheid en liefde najaag. Ek wil nie meer die dinge van hierdie lewe najaag nie. Ek wil hê dat U goedheid en liefde genoeg is vir my. Here, help my om my lewe so in te rig. Here, dankie dat ‘n lewe wat daarop gerig is, genoeg is vir U. Here, dankie dat U genoeg is. Here, help my om my wil en my hart daarop te rig.
Amen