1 Kronieke 4:9-10
9Jabes het voorrang geniet bo sy broers. Toe sy ma hom die naam Jabes gegee het, het sy gesê: “Ek het hom met smart in die wêreld gebring.” 10Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” God het laat gebeur wat hy gevra het.
VRAE:
- Die skrywer van die Kronieke boek is besig met die geslagsregister van Juda. En dan onderbreek hy die geslagsregister om meer inligting te gee oor ‘n man, ‘n afstammeling van Juda wat buitengewoon was. Die eerste feit wat ons van Jabes ontdek is dat hy voorrang geniet het bo sy broers. Nie omdat hy buitengewoon presteer het of in die aansien van mense so baie verrig het nie. Hy geniet die voorrang omdat hy anders was as sy broers. Hy het saam met God gestap. Hy het sy lewe gewy om nader aan God te kom en meer en meer te groei in sy verhouding met God.
- Jabes se lewe was buitengewoon omdat hy naby aan die Here geleef het. En die voorbeeld wat ons kry in die Kronieke boek is sy gebed. Leef jy so naby aan God dat mense sal kan getuig van jou stap saam met Hom? Sou dit die grootste eienskap wees waarna mense kan verwys wanneer hulle dink oor wie jy is en wat jy gedoen het?
- As jy dink oor die nalatenskap wat jy los, wat sou die mense naby aan jou sê? Waaroor sou hulle getuig as hulle moet deel wie jy was en wat jy gedoen het? Is dit wie jy wil wees? Waarvoor sou jy eintlik bekend wil staan?
- Hoe kan jy nader aan God se hart leef? Hoe kan jy saam met God daagliks stap? Wat moet jy verander in jou lewe om dit te begin doen?
GEBED:
Here, ek wil ook bekend wees vir die feit dat ek saam met U gestap het. Ek wil hê mense moet aan my dink as iemand wat U hartklop in elke faset van my lewe gevolg het. Here, U weet wat ek moet verander om nader aan U te leef. U weet wat ek moet doen om meer gehoorsaam te wees. Here, help my asb. deur my bewus te maak wat ek moet doen om nader aan U te leef en saam met U te stap elke dag. Vader, gee my ook die krag en waagmoed om dit te begin doen.
Amen