1 Kronieke 4:9-10
9Jabes het voorrang geniet bo sy broers. Toe sy ma hom die naam Jabes gegee het, het sy gesê: “Ek het hom met smart in die wêreld gebring.” 10Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” God het laat gebeur wat hy gevra het.
VRAE:
- Jabes het vir God gevra om sy grondgebied te vergroot. Dit beteken om vir God te vra, dat dit waaroor hy aangestel is groter sal word. Hy vra vir God om ‘n groter invloed te hê. Hy vra dat God vir hom geleentheid sal gee om meer in God se koninkryk te kan doen. Hy vra dit omdat hy weet God kan dit doen. Hy vra dit want hy vertrou op God en is uitverkoop aan God.
- Hoe ken jy vir God? Weet jy dat God deur jou groot werk kan verrig in Sy koninkryk? Waarvoor dink jy het God jou geroep? Waarvoor is jy geroep en gestuur? Waarvoor is jy alles verantwoordelik?
- Weet jy dat God nie enige iets op jou skouers sal plaas wat jy nie kan hanteer nie? En weet jy ook dat God vir jou meer sal gee as jy vra vir meer? Is jy gemaklik met wat tans op jou skouers geplaas is? Of weet jy dat jy meer vir die Here kan doen? Vra vir die Here vir dit wat op jou hart is.
- Wanneer jy vra dat God jou grondgebied vergroot, moet jy weet dat God dit kan doen. Maak seker dat jy dit nie vir selfsugtige redes vra nie. Wanneer jy vir God vra om jou grondgebied te vergroot, is dit om Sy naam te eer of nie? Is dit om God se koninkryk uit te brei, of nie? Waarom wil jy vra dat God jou grondgebied sal vergroot?
GEBED:
Here, ek is so dankbaar vir dit wat U reeds vir my beplan het en op my hart geplaas het. Dankie dat ek werksaam mag wees in U koninkryk. Here, ek wil getrou wees en U dien. Here, mag ek vra dat U vir my geleentheid gee om meer te doen vir U. Mag ek oor meer aangestel word. Here, mag ek vir meer vertrou word. Here mag ek deur my hart, my wil en my optrede meer eer bring aan U naam en vir U koninkryk. Here, mag ek dit doen omdat ek vir U lief is en my hele lewe aan U wil wy. Here, gebruik my soos U wil. Dankie Here.
Amen