1 Kronieke 4:9-10
9Jabes het voorrang geniet bo sy broers. Toe sy ma hom die naam Jabes gegee het, het sy gesê: “Ek het hom met smart in die wêreld gebring.” 10Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” God het laat gebeur wat hy gevra het.
VRAE:
- Jabes vra vir God se hand van beskerming oor alles wat hy doen en waarmee hy besig is. Hy weet dat wanneer hy besig is met God se werk, hy ook meer aanvalle beleef. Hy vra dat God hom van ander se beskerm. Maar meer as dit vra hy ook dat God hom van homself sal beskerm.
- Wanneer ons met meer vertrou word, is die versoeking groot dat ons, op ons eie werke kan begin staatmaak. Ons kan begin dink dat ons die rede is vir meer sukses of geleenthede. Jabes vra dat God hom nederig sal hou en van homself beskerm. Hoe weet jy wanneer jy meer op jouself begin staatmaak as op die Here? Hoe weet jy dat jy steeds vir die Here wag om jou te lei en te stuur? Wat is die verskil tussen jy wat net harder werskaf en God wat vir jou meer gee om voor verantwoordelik te wees?
- Hoe lyk totale vertroue op God? Hoe vertrou jy God om jou te beskerm van jou eie selfsug, hoogmoed en trots? Hoe kan jy medegelowiges wat jy vertrou innooi om jou verantwoordelik te hou dat jy nie net op jouself staatmaak nie? Hoe kan God jou bewus maak van die gevaar en versoekings wat daar is wanneer jy vir die Here werk?
- Hoe lyk vertroue en afhanklikheid van God wanneer ander jou aanval en in versoeking bring? Hoe kan jy seker maak dat dit nie jou van die pad laat afdwaal nie? Hoe kan jy seker maak dat jy altyd moed sal hou en op die Here vertrou vir die volgende tree?
Gebed:
Here, ek vra dat U, U hand van beskerming oor my sal hou. Here, eerste beskerm my, van myself. Here, help my om nie grootkop te kry, terug te val in ou patrone of meer van myself te dink as wat ek behoort nie. Here, beskerm my ook van die gevaar van ander. Help my om nie afgemat, moedeloos of bekommerd te raak wanneer ander my beskuldig, my versoek of my seermaak nie. Here, ek vertrou U dat U my sal beskerm. Dankie Here, dat ek totaal op U kan vertrou.
Amen