1 Kronieke 4:9-10
9Jabes het voorrang geniet bo sy broers. Toe sy ma hom die naam Jabes gegee het, het sy gesê: “Ek het hom met smart in die wêreld gebring.” 10Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” God het laat gebeur wat hy gevra het.
VRAE:
- Jabes vra dat God hom sal weerhou van onheil en dat geen smart hom sal tref nie. Jabes vra dat God sy lewens storie sal verander. Nie net dat hy nie van die pyn wat ander hom kan aandoen nie, maar ook dat hy nie verder ander sal seermaak nie. Hy wil nie meer bekend wees as “smart”, soos sy ma hom genoem het nie. Hy wil bekend wees as die een wat ander seën, vir God werk en vir ander goed is.
- Wat is die bron van seerkry in jou lewe? Hoe het jy al bygedra tot jou eie seerkry en die seerkry van ander? Hoe sou jy wou hê dit moet anders wees? Deel jou hart met die Here.
- Soms is ons seerkry spesifiek die plekke waar jy nog groei werk nodig het. Hoe kan jy anders kyk na jou seerkry oomblikke? Wat wil God vir jou leer in daardie plekke? Wat sou gebeur as jy nie meer deur daardie situasies en gebeure seer gemaak word nie? Hoe kan dit God eer en die koninkryk uitbrei?
- Soms kry mense om ons seer, of ons maak mense seer. Hoe kan jy ander bystaan in daardie situasies? Hoe kan jy ander ondersteun of help? Hoe kan God jou gebruik in daardie spasies?
GEBED
Here, weerhou my van onheil en mag geen smart my tref nie. Here, mag die oomblikke en situasies wat my seermaak en smart laat beleef geleenthede wees vir my om te groei. Here, mag ek so groei dat ek ook vir ander goed kan wees en nie seer veroorsaak nie. Here, gebruik my ook om ander te help in hulle reis tot genesing van smart. Dankie Here, dat ek dit vir U kan vra.
Amen