Romeine 5:1-2
“God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God.”
Om oor te gesels en dink
Hierdie is evangelie: God spreek ons vry deurdat ons glo. God neem die inisiatief om na ons toe uit te reik. Ons hoef Hom nie te probeer beindruk of beïnvloed om vir ons lief te wees nie. Deur Jesus Christus is daar vrede tussen ons en God. Ons het vrye toegang tot God. Ons het niemand nodig om by God uit te kom nie. Omdat ons in verhouding met Jesus is, kan ons enige tyd en enige plek tot God bid. Dit is genade.
Dit gee vir ons hoop om te kan uitsien om saam met God te wees. Dit help ons om kans te sien vir vandag, want ons het hoop.
Gebed
Hemelse Vader, dankie dat ek vrygespreek is. Dankie dat daar vrede tussen ons is. Dankie dat ek vrylik kan bid en met hoop kan leef. Amen.