Lukas 1:12-13, 18-20
“Sagaria het geskrik toe hy hom daar sien staan en hy het baie bang geword, maar die engel sê vir hom: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou ‘n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem.”
“Toe sê Sagaria vir die engel: “Waaraan sal ek dit weet? Ek is ‘n ou man, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd.” Die engel antwoord hom: “Ek is Gabriël, wat in diens van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie tyding vir jou te bring. Kyk, jy sal stom wees en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde, wat op die bestemde tyd vervul sal word, nie geglo het nie.””
Om oor te gesels en dink
Sagaria is ‘n Godvresende man wat tempeldiens doen. ‘n Engel verskyn aan hom en stel hom gerus om nie bang te wees nie, want sy gebed is verhoor. Hy gaan ’n seun op ’n gevorderde ouderdom ontvang. Sagaria kan dit nie glo nie en begin dadelik vrae vra. Hy vra dit op ’n manier wat blyk dat hy dit nie kan glo nie en dat God nie op die manier kan werk wat Hy werk nie. Al is hy ouer, dink hy dat God net op ’n spesifieke manier kan werk. Sy twyfel kom na vore omdat hy nie presies kan verklaar wat nou volgende gaan gebeur nie. Twyfel is nie verkeerd nie, maar ’n geslote twyfel wat nie ruimte vir God se werk maak nie, is gevaarlik. Vandaar dat die engel vir hom sê dat hy stom gaan wees.
Soos Sagaria betwyfel ons ook dit wat die Here doen omdat ons dit nie spesifiek kan verklaar nie en dan moeilik wil aanvaar.
Ons kan en moet ons twyfel na God toe bring. Hy verstaan, maar kom ons laat toe dat God op maniere werk wat ons nie altyd self weet nie. Dit is nie altyd nodig vir bewyse nie.
Gebed
Here, soms voel ek ook soos Sagaria. Ek wil ook vra: “Waaraan sal ek dit weet?” Ek wil myself oop stel dat U steeds met my werk en al weet ek nie, ek U steeds sal vertrou. Amen.