Stilstaan oomblikke – Op pad na die kruis
Teksvers:
“Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan.” (Joh 13:3)
Identifiseer:
Al het Jesus geweet dat Judas Hom sou verraai en Petrus Hom sou verloën en hulle almal Hom in die steek sou laat, was Jesus se liefde vir Sy volgelinge steeds groter.
Die Boodskap vertaal dit as: “Dit het Jesus nie bang gemaak nie. Hy het van God af gekom en moes nou teruggaan. Boonop het Hy alles onder beheer gehad. Daarvoor het God gesorg.”
Oriënteer:
Jesus het geweet wie Hy is. Sy identiteit is in God die Vader. Al sou mense die rug op Hom draai, bly Hy steeds lief vir hulle. Net so kan ek vandag weet dat Jesus vir my ook lief is, al voel ek soms soos ‘n Judas of ‘n Petrus wat Hom in die steek laat.
Bely:
Ek wil dankie sê dat U gehoorsaam was, al het U geweet wat vir U voorlê. Dankie dat U hierdie lydingspad ter wille van my gestap het. Ek bely dat ek dit nie altyd verstaan of verdien nie.
Ek bely dat ek U graag wil volg.
Bid:
Here, dankie dat U my nooit los nie. Al ken U my so goed, bly U by my. Ek stel my lewe weer onder U beheer. Amen.