Dinsdag 16 Februarie

2 Korintiërs 1:12-2:4

13 In ons briewe skryf ons aan julle niks wat julle nie self kan lees en verstaan nie. Ek hoop net julle sal ons eendag heeltemal verstaan. 14 Tot nou toe het julle ons maar gedeeltelik verstaan. Op die dag wanneer ons Here Jesus kom, sal julle dan net so trots op ons wees soos ons op julle.

In 2 Korintiërs 1:12-2:4 beskryf Paulus die kenmerke van sy bediening. Siende dat ons ook geroep is vir bediening, elkeen met sy eie plek en gawe, is dit wys om ons lewe, werk en bediening hieraan te meet, ten einde dit alles met integriteit te doen.

Paulus hoop dat die Korintiërs heeltemal sal verstaan wat dit beteken om deur die genade van God gelei te word (vers 12). Daarna deel hy sy verstaan en visie van “die dag wanneer ons Here Jesus kom” en hy maak dit duidelik dat hy sy bediening doen met hierdie dag in sy visier. Paulus verstaan dit as ’n dag waarin ons op mekaar gaan trots wees; waarin elkeen van ons gaan trots wees op die medegelowiges in wie ons van ons tyd en gawes belê het.

Dit is met die verwagting van en verlange na hierdie dag wat Paulus sy bediening doen. Want dit beteken dat daar ’n doel en rede is vir alles wat hy nou doen. Hy werk nie tevergeefs nie, hy belê nie verniet in mense nie. Inteendeel, ek glo Paulus wil ons juis hierdeur aanmoedig dat die werk van bediening die moeite werd is, en hierdie is een van die grootste redes.

Om ’n volgeling van Jesus te wees en ’n lewe van bediening te lewe beteken om opofferings te maak. Dit is maklik om te maak as ons dit doen met die vaste wete dat daar ’n dag kom waarop ons ’n oorvloed vreugde gaan beleef, en vir ewig gaan deel hê aan die gemeenskap van gelowiges. ’n Bediening en lewe met integriteit is gewortel in hierdie visie en hoop.

Om oor te dink:

  • In wie belê jy tans van jou tyd en gawes?
  • Wie belê tans van hulle tyd en gawes in jou?
  • Is daar iemand op wie jy gaan trots wees op die dag van die Here?
  • Is daar iemand wat op jou gaan trots wees op die dag van die Here?
  • Leef jy met die visie van die dag van die Here as jou groot baken en rigtingwyser? Hoe bepaal dit jou vermoë om opofferings te maak?

“God's Kingdom is "present in its beginnings, but still future in its fullness. This guards us from an under-realized eschatology (expecting no change now) and an over-realized eschatology (expecting all change now). In this stage, we embrace the reality that while we're not yet what we will be, we're also no longer what we used to be.”

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika