Dinsdag 2 Maart

Matteus 6:9-13
“…laat u Naam geheilig word…op die aarde, net soos in die hemel” (Mat 6:9)

Om oor te gesels:
Een van die maniere om God se Naam te heilig is om Hom in aanbidding aan te roep. God is juis naby aan ons en dit laat ons in verwondering voor Hom buig. Ons gebruik Sy Naam nie sonder rede of onnadenkend nie. Wanneer ons bid en vra dat Sy Naam geheilig word, vra ons dat ons besef met Wie ons te doen het. God is heilig, maar Hy is ook by ons.

Net soos wat Jesaja in verwondering was oor God se teenwoordigheid, vertel Johannes vir ons in Openbaring 4 van sy ervaring van die hemel. Jesus sit op die troon en Sy voorkoms is soos edelstene wat hom herinner aan God se grootheid (opaal) en getrouheid (smarag). Die 24 ouderlinge en 4 lewende wesens aanbid Hom:
”Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.” (Opb. 4:8)

Johannes het God se heiligheid in die hemel ervaar en weet dat God in beheer is. Hy is waardig om aanbid te word. Ons kan dit ook bid in verwondering. Here, mag ons U heiligheid vandag ervaar.

  • Wat beteken dit vir jou dat die Heilige God vir jou lief is?
  • Raak vandag vir ’n oomblik stil en sê vir die Here waaroor jy in verwondering is.
  • As dit swaar gaan en jy nie voel jy kan in verwondering wees nie, vra die Here om jou te help om Hom raak te sien.

Gebed
Here, ek voel soms oorweldig deur U teenwoordigheid. Ander kere neem ek U as vanselfsprekend aan. Mag ek in verwondering weet dat U, as die Heilige God, vir my lief is. Mag ek vandag U raak sien. Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika