Dinsdag 21 Desember

1 Johannes 4:11-12
Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

Om oor te gesels en dink:
Waar in jou alledaagse lewe kom liefde vir jou naaste maklik? Waar is dit vir jou moeilik?

Neem ‘n oomblik van stilte

  • Gister het ons gesê dat liefde nie ‘n ‘fuzzy’ gevoel is nie, maar ‘n gerigtheid op die ander en hulle welwese. Tot watter mate is jou gedagtes gerig op die mense rondom jou en hulle welwese?
  • Lees weer deur die teks. Ons liefde vir ander is een van die maniere waarop God Godself openbaar. Dis dus ‘n stuk getuienis. Waar in jou lewe het mense juis nodig om iets van God te sien en te beleef?

Gister het ons gesê: “Ware liefde is morsige-stal-liefde, prysgee-liefde, versoen-liefde, liefde-wat-lewe-gee-liefde.” En tog is dit die liefde waarmee ons die meeste sukkel as dit by ons naaste kom. Tog lees ons dat God se liefde ‘n doel het en dat daardie doel bereik word wanneer ons ander lief het. God se liefde vir ons is dus nie net iets wat ons aan kan vashou nie, maar dit is ook iets wat ons uitstuur in liefde – dikwels na hulle wie ons die minste van hou.

Gebed
Here, vandag wil ek U vra om my oë te rig op hulle om my. Daar waar mense nodig het om iets van U te sien en te beleef, daar wil ek U liefde bring. Help my om nie terug te deins wanneer dit moeilik raak nie, maar juis, deur u krag O Heilige Gees, my meer sal verbind tot u agenda van liefde vir hierdie wêreld.
Amen.

Nog om na te kyk

linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram