2 Samuel 9:1-5
“Op ’n dag het Dawid gevra: “Het daar nie miskien iemand uit Saul se familie oorgebly nie? Ek sou hom graag onder my sorg wil neem ter wille van Jonatan.” Hulle het toe vir Siba, ’n amptenaar van Saul se hofhouding, na hom toe laat roep. “Is jy Siba?” vra die koning hom. Hy antwoord: “Ek is u onderdaan.” “Is daar nie miskien iemand uit Saul se familie oor nie?” wou die koning weet. “Ek wil hom ’n besondere guns bewys.” “Daar is nog ’n kreupel seun van Jonatan,” was Siba se antwoord aan die koning. “Waar is hy?” vra die koning hom toe, en hy het geantwoord: “Hy is in die huis van Ammiël se seun Makir in Lo-Dabar.” Koning Dawid het hom toe laat haal uit Makir se huis in Lo-Dabar.”
Om oor te gesels en te dink
Koning Dawid besluit om teen alle verwagting uit te vra oor Saul se familie. Hy het vroeër met Jonathan, Saul se seun, ’n ooreenkoms uit hulle vriendskap gesluit, dat hulle altyd lojaal teenoor mekaar sal wees (1 Sam 20). Nadat hy gehoor het dat daar wel iemand is, laat hy hom haal. Dit sit Dawid nie af dat dit hom op risiko plaas nie. Dit was immers iemand wat sy koningskap sou kon bedreig.
Dawid laat hom uit moeilike omstandighede haal. Al ken Dawid hom nie, weerhou dit hom nie om steeds aan hierdie afstammeling van Saul te wil goed doen nie.
Ons kan by Dawid leer om ook risikos te neem. Net soos dit nie toe sin gemaak het nie, maak dit nie altyd sin om iemand te help wat jy dink dit nie verdien nie. Dawid maak nie verskonings nie, maar laat hom haal, sodat hy aan hom goed kan doen.
Gebed
Here, ek dink nie altyd aan ander soos wat ek moet nie. Help my om mense raak te sien wat ek kan help, al maak dit nie sin nie. Amen.