Dinsdag 28 Februarie 2023

Jesaja 43:16-21
16So sê die Here, Hy wat 'n pad gemaak het deur die see, 'n deurgang deur die magtige waters, 17Hy wat strydwaens en perde laat optrek het, 'n leër op volle sterkte na sy ondergang toe. Hulle kon nie weer opstaan nie, dit was klaar met hulle, hulle is soos 'n lamppit uitgedoof. 18Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. 19Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring. 20Die wilde diere sal My vereer, die jakkalse en die volstruise, omdat Ek water gee in die woestyn, riviere in die droë wêreld om my volk, my uitverkore volk, se dors te les. 21Dit is die volk wat Ek vir My geskep het, en wat my lof sal verkondig.

rou VRAE:

  • Die Jesaja skrywer praat van veranderinge wat plaasgevind het. Hy herinner die mense aan God se teenwoordigheid binne hierdie veranderinge. Hy kyk terug en sien waar God was. Hy kyk vorentoe en wys waar God gaan wees. God is altyd teenwoordig binne in die veranderinge. Hy los jou nooit alleen nie.
  • Veranderinge kom in groot en klein vorme. Watter veranderinge moet jy tans hanteer? Watter groot veranderinge staan voor jou? Watter klein veranderinge moet jy gereeld hanteer? Deel jou hart met die Here.
  • Hoe laat hierdie veranderinge jou voel? Voel jy dit erens in jou lyf? (Enige pyne, kolle, vlinders?) Is jou lyf besig om vir jou iets te verklap oor hoe hierdie veranderinge jou beinvloed? Deel met die Here.
  • Onthou, beide goeie en slegte veranderinge het die vermoë om ons te affekteer. Ons kan opgewonde wees, of angstig, en ons lyf kan beide op dieselfde manier interpreteer. Daarom is dit belangrik om sensitief te wees vir wat ons liggaam vir ons vertel. God het ons wonderlik geskep om selfs ons liggaam ‘n taal te gee om te probeer sin maak van dit wat ons beleef.

rou OEFENING:

  • Hou ‘n seremonie om totsiens te sê vir dit wat jy agterlaat. (Steek ‘n kers aan en blaas dit uit wanneer jy reg is. Koop blomme en gee dit vir iemand wanneer jy reg is om dit te laat gaan.)
  • Sê ‘n gebed van dankbaarheid vir die vryheid wat verandering jou nou kan leer.
    rou GEBED:
    Here, geseënd is ons wat ‘n oomblik neem om terug te kyk na wat was, die mense wat ons geword het, die mense wat vir ons lief was tot nou en die vrede beleef met dit wat bekend is. Here, geseënd is ons wanneer ons nou vorentoe kyk na ‘n nuwe weg. Gee ons die waagmoed vir elke treë, asook die een daarna. Here, herinner ons dat U voor gaan en reeds is, waarheen U ons lei.
    Amen

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika