Dinsdag, 29 Junie

Wees soos Jesus – Kyk anders.

Matteus 9:36
36Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie.

Om oor te gesels of te dink:

  • Jesus kyk anders na mense. Wanneer Jesus na mense kyk, sê die teksgedeelte het Hy hulle innig jammer gekry. Die Griekse woord (splagchnizomai) wat hier gebruik word is om so om te gee dat jou ingewande begin pyn. Jesus kyk nie na mense en oordeel hoe hulle lyk, wat hulle aan het en of hulle waardig is van Sy tyd nie. Hy kyk nie en wonder of Hy beter as hulle is nie. Jesus kyk na mense en kry hulle jammer, want Hy sien hulle nood. Hy weet die mense het ‘n diep behoefte aan God.
  • Hoe kyk jy na mense? As jy ‘n eerste keer na mense kyk, wat sien jy raak? Watter inligting neem jy in? Hoe som jy hulle op? Vra dat die Here eerlik vir jou wys hoe jy na mense kyk.
  • Tans gaan ons wêreld, maar spesifiek ons omgewing gebuk onder Covid. Ons mense kry swaar. Hoe kyk jy na mense om jou? Of probeer jy alles mis kyk? Vra dat die Here jou bewus sal maak van dit wat jou hart moet aanraak. Vra dat die Here vir jou moet wys wat jou ingewande moet pyn gee.
  • Waar het jy Jesus se hulp nodig as dit kom by die manier waarop jy kyk? Hoe wil jy hê moet Hy jou help sodat mense kan sien jy is meer soos Hy as dit hierby kom?

Gebed:
Here van my lewe,
Leer my vandag om meer soos Jesus te wees.
Ek vra dit met die wete dat ek op een of ander manier teen vanaand in hierdie taak gaan faal. Maar Here, ‘n lewe waarin dit die enigste doel is waarheen ek streef, is nie ‘n lewe wat gemors is nie.
Here Jesus, meer van U, en minder van myself.
Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika