Dinsdag 29 November 2022

Johannes 3:17
God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.

Om oor te gesels of te dink:

  • Nikodemus kom in die nag na Jesus met ‘n vraag. Hoe kan hy wedergebore word? Die vraag kan ook vertaal word as, “Hoe leef ek soos iemand wat glo?” Nikodemus is ‘n Fariseër en Skrifgeleerde. Hy is in elke aspek van sy lewe bo verdenking. Tog is hy nie seker hoe lyk dit om te leef soos iemand wat nuut glo nie. Dit is ‘n vraag waarmee baie van ons geteister is van tyd tot tyd. Hoe kan ek seker wees?
  • Jesus antwoord hom, deur hom te herinner aan wie God is en wat God se intensies is. God is die een wat vir die wêreld so liefhet, dat Hy sy Seun stuur. God is die een wat dit doen, nie omdat Hy die wêreld wil oordeel nie, maar omdat Hy die wêreld wil red. Wanneer ons vergeet waarom God vir Jesus gestuur het, kan ons dalk besig raak met die verkeerde vrae en bekommernisse. Dit kan voel asof God teen ons is en net wag dat ons foute maak. God is nie daarop uit om ons van Hom te skei nie. Dit is juis Sy plan om ons nader aan Hom te trek en vir ons die pad gelyk te maak.
  • Waar is jou gedagtes tans, as dit kom by sekerheid van geloof? Glo jy God is vir jou? Glo jy God is lief vir jou? Glo jy God wil jou nie veroordeel nie? Glo jy God wil jou red? Deel met die Here jou gedagtes rondom hierdie waarhede.
  • Is daar iets in jou lewe wat jou laat voel asof God jou WIL oordeel? Is daar iemand wat jou oortuig dat God net vir jou wag om foute te maak sodat Hy jou kan oordeel? Is daar diep gegronde oortuigings in jou hart, wat skeiding bring tussen jou en God? Deel jou hart met die Here.

Gebed:
Here van my lewe,
Ek wil vir U dankie sê. Dankie dat U ‘n God is wat lief is. Dankie dat U ‘n God is wat nie veroordeel nie. Dankie dat U ‘n God is wat red. Dankie dat ek in verhouding met U kan wees. Dankie dat ek ‘n ewige lewe in U teenwoordigheid kan hê.
Amen

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika