
Eksodus 33:18-19
“Moses sê toe: “Toon asseblief u heerlikheid aan my.” Maar Hy het geantwoord: “Ek sal al my goedheid reg voor jou laat verbygaan, en Ek self sal die Naam ‘die Here’ uitroep. Ek is genadig oor wie Ek genadig wil wees, en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.”“ (Afr2020)
Om oor te gesels en te dink
Moses is in gesprek met God en vra om Sy heerlikheid te sien. Moses wou graag meer van God sien en daarom vra hy dit. God antwoord dat Hy vir hom eerder Sy goedheid (Hebreeuse tov) sal wys. God wys vir Moses wie Hy is, eerder as hoe Hy lyk. God is goed en Hy wys dit vir Moses. Hy beleef genade in daardie groot oomblik. Die Here laat hom in ‘n rotskeur staan toe Hy in sy heerlikheid verby gekom het.
Ons beleef elke dag God se goedheid. Nie omdat ons Hom kan sien nie, maar oor wie Hy is. Hy is goed. Hy is die groot “Ek is wat Ek is” (Eks 3:14) wat met Moses en met ons elkeeen bemoeienis maak. Sien dit vandag raak.
Gebed
Here God, mag ek vandag U goedheid beleef en raak sien. Ek wil dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Dankie vir U genade vir my. Amen.