Dinsdag 4 Mei 2021

Matteus 13:10-23
18 “Luister julle dan na wat die gelykenis van die saaier beteken: 19 Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is. Dit is hy by wie daar op die pad gesaai is. 20 Die man weer by wie daar op die klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. 21 Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig. 22 Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug. 23 Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer 'n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.” (Mat 13:18-23)

Om oor te gesels
Jesus gebruik gelykenisse om Sy hoorders tot ’n keuse te bring en nooi ons uit om onsself in die gelykenisse raak te sien. Daarom is die gelykenis van die saaier so ’n kragtige gelykenis. Ons is soms op verskillende plekke in ons geloofsreis.
Die eerste tema wat in hierdie gedeelte opval is dat verdrukking en vervolging ons geloof laat wankel en dit nie laat wortel skiet nie. Swaarkry maak ons mismoedig.
Die tweede is dat bekommernis oor die lewe ons verstik. Soos wat onkruid ’n goeie oes kan belemmer, so kan ons bekommernis en die verleidelikheid van rykdom ons vreugde steel. Ons moet daarteen waak dat onkruid ons lewens verstik.
Wanneer ons toelaat dat die Woord ons lewens verander, lewer dit ’n groter oes as wat ons self ooit kan dink.

  • Is daar swaarkry wat jou laat wankel op jou geloofspad?
  • Waaroor is jy bekommerd? Gee dit vir die Here sodat dit jou nie verstik nie.

Gebed
Here, ek wil graag my bekommernis met U deel. Help my om nie daarin verstrik te raak nie. Ek wil U met my lewe vertrou. Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika