Eksodus 16:11-16, 19
“Die Here sê toe vir Moses: “Ek het die verset van die Israeliete opgemerk. Sê vir hulle: Teen skemeraand sal julle vleis eet en teen môreoggend sal julle oorgenoeg kos hê sodat julle kan besef dat Ek die Here julle God is.” Teen die aand se kant het daar kwartels aangevlieg gekom en hulle het die hele kamp vol gesit. Die volgende oggend was daar 'n wolk rondom die kamp, en toe die wolk wegtrek, was die woestyn oortrek met fyn vlokkies soos ryp.”
“Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit dié?” want hulle het nie geweet wat dit is nie. Toe sê Moses vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet. Die Here het beveel: Gaan maak dit bymekaar volgens elke gesin se behoefte, twee liter per kop. Elkeen moet vat volgens die getal mense in sy tent.”
19Moses het toe vir hulle gesê: “Niemand mag iets daarvan laat oorskiet tot môreoggend nie.””
Om oor te gesels en te dink
Die Here gee vir ons elke dag genoeg vir vandag. Die Israeliete kla in die woestyn en verlang terug na die kospotte van Egipte. Hulle voel dat die Here hulle vergeet het. Hulle kom in verset, tog kom die Here en voorsien vir hulle met manna (brood) en kwartels (vleis). Die Here gee vir elke persoon genoeg vir die dag. Hulle word beveel om nie oor te hou vir die volgende dag nie. God sal weer die volgende dag nuwe kos voorsien. Dit vra om afhanklik te leef.
Ons kan leer by die Israeliete en die Here ook vir vandag se voorsienigheid vertrou. Ons elkeen se manna lyk verskillend, maar dit is genoeg vir vandag.
Gebed
Here, dankie dat U vir my sorg. Dankie dat U vir my genoeg vir vandag gee. Mag ek vandag so afhanklik van U leef. Amen.