Josua 2:8-21
8Voor die verkenners aan die slaap geraak het, is die vrou na hulle toe op die dak 9en het sy vir hulle gesê: “Ek weet die Here gee vir julle die land; ons is skrikbevange vir julle, al die inwoners van die land bewe van vrees vir julle. 10Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat wegdroog het met julle trek uit Egipte, en ook wat julle met die twee konings van die Amoriete oorkant die Jordaan, met Sihon en Og, gedoen het, hoe julle hulle voor die voet uitgeroei het. 11Ons het dit gehoor en ons harte het van angs verstyf. Niemand het nog moed teen julle nie, want julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde. 12“Ek het julle goed behandel. Lê dan nou vir my ‘n eed voor die Here af dat julle my familie ook goed sal behandel, en gee my ‘n betroubare aanduiding 13dat julle my pa en ma, my broers en susters en almal wat by hulle hoort, se lewens sal spaar en ons so van die dood sal red.” 14Toe sê die manne vir haar: “Ons staan met ons eie lewe in vir julle s’n. As julle nie oor ons praat nie en die Here gee ons die land, sal ons jou goed behandel en ons woord hou.” 15Sy het hulle met ‘n tou deur die venster laat afsak; haar huis was in die stadsmuur ingebou, sodat sy in die muur gewoon het. 16Haar woorde aan hulle was: “Gaan die berge in sodat die mense wat na julle soek, julle nie raakloop nie. Kruip drie dae daar weg tot hulle die soektog staak. Daarna kan julle julle koers gaan.” 17Die manne het vir haar gesê: “Die eed wat jy ons laat aflê het, sal ons net bind 18as jy, wanneer ons die stad aanval, hierdie bloedrooi tou vasbind aan die venster waardeur jy ons laat afsak, en jou pa en ma, jou broers en jou hele familie by jou in die huis bymekaarhou. 19Enigeen wat by jou huis se deure uitgaan buitentoe, sal self vir sy dood verantwoordelik wees, nie ons nie. Ons hou ons verantwoordelik vir enigeen wat by jou in die huis is; daar sal nie ‘n hand teen hom gelig word nie. 20En as jy oor ons praat, is ons nie gebind aan die eed wat jy ons laat aflê het nie.” 21Sy het gesê: “Laat dit wees soos julle gesê het,” en sy het hulle laat gaan en hulle is weg. Sy het toe die bloedrooi tou aan die venster vasgebind.
Om oor te gesels of te dink:
Gebed:
God gee my die kalmte van gemoed
om die dinge te aanvaar wat ek nie kan verander nie;
moed om die dinge te verander wat ek kan;
en wysheid om die verskil te ken.
Help my om net een dag op ‘n slag te lewe;
om een oomblik op ‘n slag te geniet;
om te aanvaar dat swaarkry deel is van die pad na vrede;
om soos Jesus, hierdie sondige wêreld te neem soos dit is, nie soos ek dit wil hê nie;
om te vertrou dat U alles sal regmaak
as ek my aan U Wil oorgee;
en dat ek redelik gelukkig kan wees in hierdie lewe
en uiters gelukkig met U kan wees vir ewig in die volgende.
Amen.